Kortpad-Afrikaans – ʼn Basiese Grammatika

Kortpad-Afrikaans – ʼn Basiese Grammatika

Kortpad-Afrikaans is ʼn nuwe gids vir taalwerkers, geskryf deur Rina Loader, Tobie van Dyk en Charlene Human. Insette is ook gelewer deur Wannie Carstens, Marlies Taljaard, Alexander Mickel en Kendra Laubner. Die publikasie is moontlik gemaak deur ʼn ruimhartige bydrae van die Noordwes Universiteit, die Interinstitusionele Sentrum vir Taalontwikkeling en -Assessering, en die betrokkenheid van die Universiteit van Wene en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die gids is gebruikersvriendelik met ʼn aantreklike voorblad. Dit bestaan uit sewe hoofstukke. Hoofstuk 1 gee ʼn algemene oorsig oor die ontstaan en konteks van Afrikaans. Hoofstuk 2 fokus op die Afrikaanse alfabet en klanke. Sowel vokale as konsonante word in detail bespreek. Hoofstuk 3 gee ʼn bespreking van wat dit behels om reg te skryf. Daar word aandag gegee aan leestekens, skryftekens, sowel as basiese spelreëls. Hoofstuk 4 gee ʼn baie nuttige uiteensetting van wat dit behels om woorde te skep. Nuwe woorde, lettergrepe, die korrekte uitspraak en klankverskynsels kom almal onder die loep. Die verskillende tipes woordsoorte geniet aandag in Hoofstuk 5, terwyl Hoofstuk 6 sinstipes bespreek. Hoofstuk 7 werp lig op taal en betekenis. Verskillende kwessies word aangeraak, naamlik semantiek, terminologie, homonimie, sinonieme, antonieme, neologismes, anglisismes, volksetimologie, verwarrende woorde, multiwoord-eenhede, sinsreduksie en nuttige stylfigure. Aan die einde word ʼn bibliografie verskaf. Elke aspek word verduidelik en toegelig met voorbeelde.

Die uitleg en formattering is van so ʼn aard dat dit begrip vergemaklik. Die gebruik van tabelle, kassies, kleur en opskrifte in vetgedruk omskep die handleiding in ʼn gebruikersvriendelike gids. ʼn Pluspunt is dat elke aspek met ʼn kort verduideliking in Engels gepaardgaan. Daar is ook plek om notas te maak. Hoofstuk 1, wat ʼn oorsig oor die ontstaan en konteks van Afrikaans gee, bestaan in sy geheel uit Engels. Ook die inleiding is in Engels geskryf. Dit vergroot die teikenmark van die boek. Die uitleg en uiteensetting is van so ʼn aard dat Engelssprekende gebruikers met ʼn belangstelling in Afrikaans die teks maklik kan volg. Afrikaans is ʼn ryk taal en die boek laat reg geskied aan die taal in al sy fasette. Die grammatikagids is ʼn welkome toevoeging tot my boekrak en ek beveel dit aan vir alle taalpraktisyns met ʼn belangstelling in Afrikaans. Die boek word uitgegee deur African Sun Media en kos sowat R240.00. Die boek kan aanlyn by African Sun Media bestel word by orders@africansunmedia.co.za  Dit is ook beskikbaar by Amazon in Kindle-formaat.

“Kortpad-Afrikaans is ’n uiters gebruikersvriendelike tweetalige kontrolebron oor daardie aspekte wat die lees, skryf en praat van Afrikaans ontsluit. Teorie en toepassing word deurgaans vernuftig versoen en daardeur word dit ’n toeganklike bron wat leiding gee vir ’n verskeidenheid gebruikers – van leek tot kenner. Ek beveel die gebruik van die boek sterk aan.”
– Prof. Wannie Carstens (Buitengewone Professor, NWU Skool vir Tale)

Uit die mond van ʼn student in Duitsland: “Die gids is baie goed! Die verklarings is duidelik, die voorbeeldsinne baie goed en ek het alles verstaan en begryp. Ek hou ook van die kleure – dit alles help om die dinge te verstaan! Ek wens ek het die gids vroeër gehad!”
– Dr. Alexander Mickel (Bioloog)

Written by Anne Marais

Responses